Campus Life

US BESIG MET VEILIGHEIDSOUDIT BY STUDENTEHUISE

Stellenbosch logo (1)

 

’n Veiligheidsoudit word tans by al die studentehuise op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus uitgevoer.

Die oudit kom nadat ’n vrouestudent verlede naweek in ’n studentehuis in Joubertweg beroof en verkrag is, en het ten doel om kwesbare plekke te identifiseer wat bykomende veiligheidsmaatreëls benodig.

“Ná die voorval verlede naweek het dit aan die lig gekom dat misdadigers hulle tot nuwe taktiek wend namate die veiligheidsmaatreëls op kampus opgeskerp word,” lui die verklaring.

Martin Viljoen, US-woordvoerder, het gister aan Die Burger gesê die oudit word deur ’n multidissiplinêre span gedoen wat al die geriewe uit verskeie invalshoeke bekyk.

Dit behels dat die universiteit opnuut die bestaande veiligheidsmaatreëls wat reeds by elke huis aangebring is – soos veiligheidshekke en diefwering – gaan ondersoek om te bepaal watter verdere maatreëls nodig is om die huise te beveilig.

“In die onlangse voorval het die inbreker ’n vaste venster, wat nie kan oopmaak nie, gebreek en die glas verwyder om toegang tot die huis te kry. Die ander twee vensters, wat kan oopmaak, is met diefwering toegerus.

“Weens die gevaar dat ’n student tydens ’n brand in ’n kamer vasgekeer kan word, is vaste vensters doelbewus nie met diefwering beveilig nie.

“Die oudit sal onder meer verskillende gevare moet verreken om by praktiese oplossings uit te kom,” het Viljoen verduidelik.

Die studentehuis in Joubertweg staan tans leeg nadat die slagoffer en haar huismaats na ’n ander huis op die kampus verskuif is. Dit sal ná die oudit weer as ’n studentehuis aangewend word, het Viljoen gesê.

Lt.kol. Andrè Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê niemand is nog in verband met die verkragting in hegtenis geneem nie.

Luidens ’n US-verklaring het die inbreker die kamer waar hy ingebreek het waarskynlik doelbewus gekies omdat daar nie ’n student in die kamer was nie.

“Dit vereis bykomende sekerheidsmaatreëls, bo en behalwe dié wat reeds bestaan. Ons merk ’n tendens op dat opportunistiese misdade ongelukkig in die rigting van berekende en beplande voorvalle beweeg,” het prof. Leopoldt van Huyssteen, waarnemende US-rektor, gesê.

Die US het ook kort ná die voorval verlede naweek aangekondig dat geen eksamens en toetse volgende jaar saans afgelê sal word nie.