Campus Life

Stellenbosch shuttles dalk nie legitiem nie

Stellenbosch Shuttles

 

By Michelle Van Der Spuy, Eikestad News

Indien jy van plan was om van Stellenbosch Meter Taxis and Shuttle Service se dienste gebruik te maak, dink weer. Jy gaan dalk vir ’n ander tipe ride gevat word.

Eikestadnuus is onlangs ingelig dat dié private pendeldiens, wat vermoedelik deur Marlon Timmie besit en bestuur word, kliënte se geld vat en dan nooit opdaag nie.

Luidens Timmie se LinkedIn profiel is hy die eienaar en bestuurder van Stellenbosch Shuttles. Die pendeldiens word op Woza Online en Show Me Stellenbosch geadverteer.

Timmie sê in die advertensies dat sy pendeldiens met al die groot hotelle, gastehuise en restaurante in Stellenbosch besigheid doen.

’n Bron wat verkies om anoniem te bly, het vertel hoe sy dogter deur Timmie om die bos gelei is.

“My dogter en ’n paar vriendinne wou met sy pendeldiens Kaapstad toe gaan. Hulle het R1400 vir Timmie se dienste betaal en hy het net nooit opgedaag nie.

“Wat vir my die ergste is, is nie dat hy mense se geld vat nie, maar dat hy mense in die steek laat.”

Timmie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Timmie se pendeldiens is onder ’n verskeidenheid van name gelys.

Stellenbosch Sedan Taxis en Stellenbosch Shuttles behoort ook aan hom.

Nie een van dié besighede is by Dorpstraat 121, die adres wat op Show Me Stellenbosch en ander webtuistes geadverteer word, te vind nie.

Luidens Cylex het een van Timmie se slagoffers ’n internasionale vlug gemis wat R3800 gekos het om te herskeduleer.

’n Klag is by Stellenbosch-polisie aangemeld, maar die saak is na Bellville-polisie verwys.