Campus Life

MATIES WEEG IN OP MODERNE GELOOF

donald katts

 

Verlede week het die teologie-fakulteit van die Universiteit Stellenbosch ’n konferensie met die tema “A Theology on the ­Edge” aangebied om die lewe van prof. John de Gruchy te vier.

Verskeie sprekers het daarop gewys dat ’n teo­lo­gie op die snykant te make het met die opheffing van die lewenspeil, asook die herstel van God se wêreld. Dit daag ons uit om tussen mense in hul nood en lyding te wees, sáám te ervaar wat dit is om arm, honger, weerloos, gemarginaliseerd, bekommerd en oorweldig deur vrees en onsekerheid te wees. Dit vereis dat ons nuut sal kyk na ons definisies van kerkwees, kerkbestuur, kerkstrukture, ekumeniese verhoudinge, bedieningspatrone én ons teologie.

De Gruchy benadruk in sy nuwe boek, A Theological Odyssey – My Life in Writing, dat teologie gaan daaroor om God en onsself in verhouding met mekaar en die kosmos te ken. Hy meen dit is meer as om te verstaan, omdat geloof ’n reis en ’n verbintenis is. Dit beteken om in die wêreld te leef, te deel in die uitdagings van die wêreld en om tot die welsyn daarvan by te dra.

Dit beteken dat ons teologiese beoefening tot transformasie moet lei; die transformasie van ons ongelyke samelewing, asook optrede teen enige politieke, sosiale en ekonomiese strukture wat mense van hul menswaardigheid beroof, mense onderdruk en mense arm hou. In die praktyk sou dit neerkom op ons voortdurende strewe na die daarstel van ’n gelyke, regverdige, veilige, kindervriendelike, menswaardige, vreedsame en versoende gemeenskap – een waar menslikheid, deernis en versorging gedy.

“ Nog minder kan ons teologiese opleiding bloot gaan om die behoud van ons kerklike tradisie. ”

​Prof. Nico Koopman wys op die noodsaaklikheid van gesámentlik lewe. Dr. Allan Boesak herinner ons dat die stryd om geregtigheid nie voltooi is nie. De Gruchy sluit toe af met ’n oproep dat die jonger teoloë deur die konferensie en dié soort teologie geïnspireer sal word om die werk van die ouer generasie van teoloë in Suid-Afrika voort te sit.

Op die konferensie het dit duidelik geword dat die beoefening van teologie nie net ’n akademiese dissipline is nie, maar juis die hele spektrum van die mens en sy lewe behels. Nog minder kan ons teologiese opleiding bloot gaan om die behoud van ons kerklike tradisie. Teologie moet die realiteite van die mens en sy alledaagse omgewing kan omvat – van aanbidding tot praktyke van geloof; van spiritualiteit tot hulp aan noodlydendes; van gemeentelike bedrywighede tot die deelname in die openbare arena; van meditasie tot openbare debatte.

Dié soort teologie kan net effektief wees as dit uit ’n diepe spiritualiteit ontspring. Dít is wat ek uit die lewe, skryfwerk en teologie van De Gruchy bewonder: dat hy steeds deur sy menswees help om Suid-Afrika ’n mensliker samelewing te maak.

 

Deur Donald Katts