Campus Life

Maties doen weg met aandeksamen in 2015

Stellenbosch logo (1)

 

Toetse en eksamen hoef in 2015 nie meer saans by die Universiteit Stellenbosch (US) afgelê te word nie.

Prof. Leopoldt van Huyssteen, waarnemende rektor en visekanselier, het in ’n verklaring gesê die senaat het Vrydag ’n aanbeveling daaroor aanvaar.

Dié besluit kom na verskeie universiteitstudente in verskillende voorvalle in die dorp deur misdadigers aangeval of beroof is.

Die US het reeds in Mei 2014 gesê sy beplanningskomitee sal ’n aanbeveling voor die senaat lê dat toetse en eksamen nie meer saans afgelê hoef te word nie. Dié aankondiging het gekom nadat die Matie-student Ilzé-Dene Oberholzer (21) in die Eikestad-winkelsentrum se parkeersentrum deur twee mans in ’n motor geboender en ontvoer is.

Sy was op pad om ’n toets in die Wilcocks-gebou op die kampus te gaan skryf.

In die jongste voorval is ’n vrouestudent Saterdag tussen 06:00 en 07:00 in ’n luister-leef-en-leer huis in Joubertweg verkrag en van haar besittings beroof.

Die student en haar ses huismaats is sedertdien deur die US na ’n ander huis geskuif.

Kol. Tembinkosi Kinana, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.