Campus Life

FYNBOS BRAND NA 12 DAE GEBLUS

 

Fynbos

’n Brand wat sedert 31 Augustus in die Riviersonderendberg gewoed het, is gister in bedwang gebring.

Volgens Reinhard Geldenhuys, Overbergse rampbestuurshoof, het reën wat gister in die gebied geval het, gehelp om die brand te blus.

Hy het gesê die vlamme teen die suidelike hang van die berg is Sondag geblus, maar dit het steeds hoog in ’n onherbergsame gebied gebrand.

Marietjie Engelbrecht, woordvoerder van CapeNature, het gesê volgens alle aanduidings was dit ’n natuurlike brand.

“Dit is waarskynlik deur bobbejane veroorsaak wat klippe laat rol het wat vonke veroorsaak het. Dit is bykans onmoontlik dat daar mense was waar die brand ontstaan het.”

Sy het gesê sowat 8 000 ha fynbos het afgebrand, maar geen eiendomme is glo beskadig nie. Volgens haar was die fynbos wat gebrand het 16 jaar en ouer.

Sy het gesê een van die redes hoekom dit so lank geneem het om die brand te blus, is dat die brand op die bergkruin ontstaan het. “Dít het toe stadig helling-af en teen die opwaartse lugstrome gebrand. Dit het dus letterlik dae geneem om gebiede te bereik waar dit geblus kon word.

“Aan die noordekant van die berg kon ons byvoorbeeld eers vandag (gister) die laaste sigbare vlamme aan die voet van die berg met werkers blus.”

Engelbrecht het gesê die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, die Overberg-distriksmunisipaliteit, CapeNature, Working on Fire en vrywillige veldbranddienste in Jonkershoek en sekere grondeienaars het gehelp om die brand te blus

 

Deur Raymond Willemse