Campus Life

BRUGSLAPERS KEER TERUG

Jouber straat verkragting

 

 

Diegene wat hulself deesdae tuis maak onder die Adam Tas-brug langs die Eersterivier, kom van sover as Delft in die Kaap.

Só sê Tim Davids (uncle Tim) van Idasvallei, wat dit sy missie gemaak het om uit te vind wie slaap daar by die brug en hoekom.

“Ek het ook een keer gehoor dat mense daarvan praat. En toe gaan ek self tot daar om te sien.

“Die een outjie het gesê hy kom van Delft af.”

Uncle Tim sê dat hy al voorheen vergaderings met amptenare van die munisipaliteit wou hê, maar dit het nooit ’n werklikheid geword nie.

“Die mense wat daar slaap, is ’n gevaar. Hoekom kan hulle nie daar verwyder word nie?”

Hy noem ook dat daar mense woon wat uit gegoede buurte en goeie huise kom.

“Ek het met een pa gepraat. Sy meisiekind woon daar. Sy is uitgesit oor sy nie gehoorsaam is nie. Maar kyk waar sien ek haar toe.”

Een van uncle Tim se grootste bekommernisse is dat indien daar niks gedoen word aan die situasie in die dorp nie, wat sal gebeur as mense begin intrek langs die Idasvallei-dam?

“Ek wonder, as ek my tent daar gaan opslaan, sal hulle my wegneem?”

Vernon Bowers, woordvoerder van Stellenbosch-munisipaliteit, het gesê munisipale regulasies beheer sulke insidente.

“Dit is onwettig om op straat of openbare plekke te oornag. Hierdie mense word gereeld deur die wetstoepassingsbeamptes verwyder en selfs na die munisipale nagskuiling geneem.

“Die situasie is egter dat hierdie mense elke keer terugkeer.

“Gesprekke is al met NIKRO (National Institute for Crime Prevention and the reintegration of offenders) gevoer vir hulp omdat hierdie ook ’n sosio-ekonomiese probleem is en dat die probleem nie slegs deur wetstoepassing opgelos sal word nie.”

Bowers het ook bevestig dat baie van die brugslapers van buite Stellenbosch kom.

Hy voeg by dat die persone dalk ook vervolging in die gesig staar. “Dis ongelukkig so dat die howe nie gunstiglik na hierdie tipe sake kyk nie, wat die polisiëring hiervan bemoeilik.”

Eikestadnuus verneem ook dat daar moontlik ’n petisie oor dié situasie in omloop is. Raadslid Quintin Smit, bestuurskomitee-lid: gemeenskap en beskermingsdienste, sê dat hy al met verskeie organisasies sowel as lede van die publiek ten opsigte van dié probleme langs die Eersterivier vergader het.

“In die verband is ’n petisie ook oorhandig en die Stellenbosch-munisipaliteit is tans besig om te skakel met verskeie organisasies asook die openbare sektor om te kyk na ’n omvattende plan om die probleem te hanteer. “Die probleem is ook grotendeels ’n sosiale probleem, en daarom is dit belangrik om die sosiale dinamika agter die probleem die hoof te bied. As deel van ons omvattende veiligheidsplan sal hierdie aangeleentheid ook aangespreek word. Ons word ondersteun deur die publiek en ander organisasies om ’n omvattende plan ter tafel te lê

 

By Jill Nicholas